The Children\'s Chapel - Award-winning site, featuring Bible stories from a variety of authors, excellent Christian resources for children, and over 140 links to other Christian and family-friendly sites for kids 'n Stem in die Nag deur Sophia Prinsloo *Text Version* | *English* Flower readers graphic Jake het op die agterste sitplek van die motor neergeplof. Hy en sy ouers was by 'n sendingkonferensie op 'n naburige dorp en hulle was op pad terug nadat hulle 'n wonderlike tyd gehad het. Dit was so bemoedigend en opwindend om te hoor wat die Here deur Sy sendelinge in ander lande doen en dit het Jake se belangstelling geprikkel. Terwyl Jake deur die venster na die liggies in die donker daar buite gestaar het, het hy gedink aan die dag se gebeure en gewonder hy of hy ooit 'n sendeling sou kon wees as hy groot is. Sou die Here hom ook miskien roep om na verre lande te gaan om Sy woord daar te verkondig of sou hy dit hier in sy eie land doen? Miskien kan hy dalk nou al iets vir die Here doen, maar hy wonder of hy nie nog te jonk en te klein is nie. Stadig maar seker, het die dreuning van die motor se enjin hom aan die slaap gesus en hy het begin droom van 'n jong seun genaamd Samuel, wat baie lank gelede in die tyd van die rigters van Israel geleef het. flower line graphic Samuel se ma, Hanna, was kinderloos, maar sy het 'n gelofte aan die Here gemaak, dat as Hy vir haar 'n seun sou gee, sy hom na die tabernakel in Silo sou bring om sy hele lewe lank daar diens te doen. God het haar gebed verhoor en Samuel is gebore. Sy het hom na die tabernakel geneem toe hy nog baie klein was, maar hy was nie bang nie, want sy ma het hom geleer dat die Here altyd met hom sou wees, al was sý nie daar saam met hom nie. Elke jaar wanneer sy ouers, Elkana en Hanna, die tabernakel besoek het, het sy vir hom 'n nuwe manteltjie gebring en dan het Eli, die priester van God, hulle geseën. Eli, was al baie oud en blind en daarom was hy baie bly dat Samuel daar was om hom met sy dienswerk in die tabernakel te help. Dit was 'n baie besige plek, want al die Israeliete het offers vir die Here daarheen gebring en Eli moes toesien dat alles volgens die wet van die Here plaasvind. Samuel het gehoorsaam alles gedoen wat Eli hom beveel het. In die oggende moes hy die deure oopmaak, sodat die mense kon inkom. Hy het gesorg dat al die lampe vol olie was en bly brand het, want daar was nie vensters in die tabernakel om lig van buite af binne te laat nie. Dan moes hy al die goud, silwer en kopergoed blink poleer totdat dit skitter. Soos hy groter geword het, het sy pligte al hoe belangriker geword soos wat Eli al hoe meer en meer aan hom toevertrou het. Eli se twee seuns, Hofni, met sy loerende oë, en Pinehas, met sy skewe grinnik, het ook as priesters gedien, maar hulle het verkeerd gedoen in die Here se oë, want hulle was vermetel en selfsugtig. Wanneer die Israeliete hulle offers gebring het, het hierdie twee priesters altyd die beste deel van die offer, wat eintlik aan God behoort het, vir hulleself geneem. Soms het hulle geweld gebruik om dit doen. Dit was 'n groot sonde, want hulle het die offer vir die Here nie gerespekteer nie en veroorsaak dat die Israeliete ook nie die Here se offer gerespekteer het nie. Eli het hulle maar net sagkens bestraf op sy eie manier en nie volgens die wet van die Here nie, maar hulle was so hardkoppig dat hulle nie wou luister nie. Al het hy het probeer om hulle te leer om die regte ding te doen, het hy sy seuns belangriker geag as God. Daarom het God besluit om hulle te straf en 'n oordeel oor hulle te bring. In die aande wanneer al hulle werk klaar was, terwyl die soet geur van wierook nog in die lug gehang het, het Eli dit geniet om vir Samuel te vertel van al die gebooie en wette, die feeste en al die verskillende offers. Eli het gesê die gebede van die mense het soos die rook van die offers opgestyg na God met 'n lieflike geur. Samuel het egter die meeste daarvan gehou om te hoor van God se wonderwerke: Van Moses wat self God se stem gehoor het en die Israeliete uit Egipteland uitgelei het. Van die Rooisee wat in twee verdeel het, die water uit die rots, die manna en nog baie meer. Op die berg Sinai, het God met Moses gepraat soos met 'n vriend, en hom vertel hoe om die tabernakel te bou, die offers te bring en Sy gebooie en wette te gehoorsaam. Samuel het gewonder waarom God se stem nou al vir so lank stil was in Silo. Eli het nie God se stem gehoor nie, Hofni en Pinehas ook nie. Samuel het gewens hy kon die stem van God hoor, maar hy het gedink hy was seker maar nog te klein en te jonk en moes waarskynlik nog te veel leer. Een nag, terwyl Samuel geslaap het, het hy 'n stem na hom hoor roep, "Samuel, Samuel!" Samuel het dadelik geantwoord en gesê, "Hier is ek!" Hy opgestaan en na Eli geloop en vir hom gesê, "Hier is ek, want u het my geroep." Half deur die slaap het Eli vir hom gesê, "Ek het jou nie geroep nie, gaan slaap maar weer." Hy het toe weer gaan lê. Toe het die Here weer vir Samuel geroep, "Samuel, Samuel!" Weer het Samuel na Eli gegaan, "Hier is ek, want u het my geroep," maar weer het Eli, wat nou 'n bietjie wakkerder was, vir hom gesê dat dit nie hy was nie en dat Samuel maar weer kon gaan slaap. Skaars het Samuel weer gaan lê om aan die slaap te raak, toe hy weer die stem hoor, "Samuel, Samuel!" Samuel het gedink, "Hierdie keer het Eli my seker regtig nodig," en hy het na hom gegaan en gesê, "Hier is ek, want u het my geroep." Hierdie keer was Eli wawyd wakker en het besef dat dit die Here moes gewees het wat Samuel geroep het. Hy het vir Samuel gesê, "Dit was nie ek nie, maar gaan lê weer en as jy weer die stem hoor, sê vir Hom: 'Spreek, Here, want u dienaar luister.'" Toe het Samuel weer op sy plek gaan lê en die stem het weer geroep, "Samuel, Samuel!" Samuel het geantwoord, "Spreek, Here, u dienaar luister." Die Here het vir Samuel gesê, "Kyk, die ding wat Ek gaan doen, sal mense se ore laat tuit van skok, want Ek gaan Eli se bose seuns oordeel en straf vir al die verkeerde dinge wat hulle gedoen het. Ek gaan ook vir Eli straf, omdat hy nie sy seuns ernstig bestraf het nie." Samuel het met groot oë geluister maar bly lê tot die oggend toe. Hy was nogal bang om vir Eli die slegte nuus te vertel, want Eli was vir hom soos 'n pa. Nadat Samuel die deure oopgemaak het, het Eli hom geroep en gesê, "Samuel, my seun, wat is die boodskap wat die Here vir jou gegee het? Moenie waag om iets vir my weg te steek nie, anders sal die Here jou straf." Toe het Samuel vir Eli alles vertel wat die Here gesê het en het niks teruggehou nie. Eli het toe gesê, "Hy is die Here, laat Hom doen wat goed is in sy oë." Omdat Samuel getrou was om die woord van die Here net so aan Eli mee te deel, het die Here meer en meer boodskappe, goed of sleg, aan Samuel toevertrou om vir die mense te gee en AL sy woorde het waar geword. Samuel het groot geword en almal het geweet dat die Here met hom was en hulle was baie bly dat God weereens met sy mense gepraat het in Silo. flower line graphic "Jake, Jake!" Jake hoor half deur die slaap iemand na hom roep en hy voel iemand skud hom aan sy arm. Toe hy sy oë oopmaak, het hy sy pa se glimlaggende gesig reg voor hom gesien, "Jake, ons is by die huis, jy kan nou in jou eie bed gaan verder slaap." "Pa, Pa, ek is so bly! Ek het 'n droom gehad en nou weet ek dat ek nie te jonk of te klein is om deur die Here gebruik te word nie!" Flower line graphic DINK! Wie was Hofni en Pinehas se pa? Waarom wou God Eli en sy seuns straf? Hoeveel keer het Samuel na Eli gegaan en vir hom gesê, "Hier is ek"? Hoeveel keer het die stem van die Here vir Samuel geroep? Wat het Samuel vir die Here gesê? Is jy te jonk en te klein om deur die Here gebruik te word? Wat dink jy kan jy vir die Here doen? ONTHOU: Jy is nooit te jonk om deur die Here gebruik te word nie. 'N VERS OM TE LEER "Laat niemand jou jonkheid verag nie, maar wees 'n voorbeeld vir die gelowiges in woord en gedrag, in liefde, in geloof en in reinheid" (1 Timotheus 4:12). LAAT ONS BID **************************************************** Hemelse Vader, dankie dat U met ons wil praat en dat ons nie te jonk is om U stem te hoor of om deur U gebruik te word nie. Help ons om U stem te hoor en dit te gehoorsaam, U te eer en altyd ons beste vir U te doen. In Jesus se Naam. Amen. **************************************************** KAN JY HIERIE STORIE IN DIE BYBEL VIND? 1 Samuel 2:1-26; 3:1-21 Flower line graphic BIBLE STORY ARCHIVE childrenschapel.org/bibstory2.html Add/update a Bible story resource The Children\'s Chapel - Award-winning site, featuring Bible stories from a variety of authors, excellent Christian resources for children, and over 140 links to other Christian and family-friendly sites for kids Copyright © 2017 by Sophia Prinsloo. You may NOT re-post this Bible story. However, you may freely link to it, provided visitors can see our web address when they click on the link. Free Bible Stories! To receive a new Bible story each week, enter your e-mail address under "Subscribe... " at tscpulpitseries.cis.to/mailman/listinfo/stories You will be sent a message requesting confirmation of your subscription request. IMPORTANT! YOU MUST REPLY to this confirmation request to activate your subscription to this list. Copyright © 2017 www.childrenschapel.org North Central Ohio, U.S.A. Pictures Courtesy of Free Bible Images TOP OF THE PAGE Webmaster Last updated January 24, 2017. Next page Welcome!/ What's Here/ Bible Stories/ E-Mail Us/ Around the Piano/ 4 Things Events/ Children's Chapel/ Adult Chapel/ Missing Link/ Links/ Resources