The Children's Chapel Award-winning site, featuring Bible stories from a variety of authors, excellent Christian resources for children, and over 140 links to other Christian and family-friendly sites for kids. ~ A Ministry of the Missing Link ~ Geloofsvoete 'n Storie oor Jesus wat op die water loop deur Sophia Prinsloo Text Version | English Tsepo en Vusi het van vreugde en blydskap gehardloop en gespring in die reën. Groot druppels het hard op hulle lywe geval, maar hulle het nie omgegee om nat te word nie. Voor hierdie reën, het die droogte SÓ LANK aangehou in hulle deel van Afrika, dat hulle beeste en skape maer en uitgeteer geword het, omdat daar skaars kos oor was vir hulle om te eet. As die reën langer weggebly het, sou die mense binnekort ook nie meer iets te ete gehad het nie. Vir dae en maande lank het hulle hele gemeenskap tot God gebid en uiteindelik het Hy verhoor en die langverwagte reën het gekom. Binnekort sou alles weer mooi groen wees, gewasse sou groei en kos en lewe verskaf aan al wat leef en beef. Met 'n "Pa! Ma! Kom kyk die reën! Ons is so bly dat dit voel of ons voete nie die grond raak nie!" het hulle die huis binne gehardloop sonder om hulle voete af te droog. Gewoonlik sou hulle ma kwaad gewees het vir hulle oor die nat spore in die huis, maar nie hierdie keer nie. Nat voete was die bewys dat hul gebede en hul geloof in Jesus hulle deurgedra het deur die ergste droogte in 'n baie lang tyd. *** Laat die middag nadat die mense heerlik gesmul het aan die broodjies en vissies wat Jesus wonderbaarlik vermeerder het uit net vyf broodjies en twee vissies, was die mense nie baie lus om huistoe te gaan nie. Jesus dring toe aan by sy dissipels, "Klim julle solank in die boot en vaar oor na Gennésaret, terwyl Ek die skare terugstuur na hulle huise toe." Jesus het na die skare gedraai, sy hande opgelig en met 'n luide stem gesê, "Gaan na julle huise toe in My vrede!" Die mense het gesien hoe die dissipels in die boot wegvaar, terwyl Jesus alleen weggegaan het en uit hulle sig verdwyn het in die rigting van die berge. So, met hulle gees vol van die Woorde van Jesus en hulle mae vol brood en vis, het hulle besluit om ook te vertrek. Jesus het op die naaste berg geklim om te gaan bid, sodat Hy alleen met sy hemelse Vader kon praat en geestelike krag van Hom kon kry. Daar op die berg, het die Vader het daar vir Hom alles gewys wat Hy moes doen –wonderwerke en genesings, Nuwe Verbond leerstellinge, teregwysing van die Fariseërs en duiweluitdrywing. In die tussentyd, het die dissipels reeds die middel van die see bereik. Hulle het gesukkel om te roei, want die wind was teen hulle en die golwe het al hoe groter en onstuimiger geword. Die tyd het nie stilgestaan nie en die son sou binne 'n uur of twee opkom. Petrus het bo die geklots van die water en wind uitgeroep, "ROEI MANNE, ROEI! Anders kom ons NOOIT aan die anderkant uit nie!" Jakobus het geantwoord, "Ons arms is al lam van die geroei die hele nag lank en voel of dit wil afval. Hoe gaan ons ooit die strand bereik?" Petrus wou nog iets terugskree, maar skielik het sy roeispaan uit sy hand geval, sy oë het groot gerek, sy mond oopgeval van skok en hy kon skaars 'n woord uitkry. Van die ander dissipels het Petrus se gesig gesien en gewonder wat fout was met hom. Was dit 'n groot golf wat na hulle toe aan die kom was? NEE! Toe Judas sien wat Petrus sien, het hy angsbevange geskreeu, "Dit is 'n SPOOK! Kyk hoe sweef hy oor die water! Sy voete word nie eers nat nie!" Skielik het al die dissipels se knieë net so lam soos hulle arms gevoel en almal het saam geskreeu, "HELP! HELP!" maar hulle het nêrens gehad om heen weg te hardloop of te gaan wegkruip nie. Dadelik het Jesus met hulle gepraat en vir hulle gesê, "Hou goeie moed. Dit is EK. Moenie bang wees nie!" Nog nooit in hulle lewens het die dissipels 'n mens op die water sien loop nie, en sonder om te dink, het Petrus vir Jesus gesê, "Here, as dit regtig U is, beveel my om op die water na U toe te kom!" Jesus het geantwoord, "Kom!" Met sy oë vasgenael op Jesus, het Petrus gevoel-voel tot by die rand van die boot en voetjie vir voetjie uitgeklim sonder om van Jesus af weg te kyk. Hy het 'n paar treë geloop en wonder bo wonder het hy nie gesink nie. SJOE! Hy het groot geloof gehad. Skielik het hy weer die wind gehoor huil en die sproei van die golwe het in sy gesig gespat. Hy het begin dink, "O gonna, kyk hoe groot is die golwe, EN ek loop op water, EN dit is baie diep hier onder my, EN ek sal nie op die bodem kan staan as ek sink nie. Hier is nie eens 'n rots naby waarop ek kan probeer staan nie. Ek kan goed swem, maar niemand kan swem in hierdie groot golwe nie, dit sal my vermorsel. Net toe hy begin dink aan sink, het hy baie bang geword, sy geloof het verdwyn en toe sink hy regtig! "HERE, RED MY!" het hy baie benoud uitgeroep. Jesus het dadelik sy hand uitgesteek en hom stewig aan die arm gegryp en vir hom gesê, "Kleingelowige, waarom het jy getwyfel?" Sonder om vir 'n antwoord te wag, het Jesus vir Petrus in die boot ingehelp en skielik het die wind gaan lê en hulle het by die land aangekom. In verwondering het die dissipels voor Jesus neergeval terwyl hulle gedink het aan die woorde uit die boek Job, hoofstuk 9, vers 8, wat sê dat dit God alleen is wat "stap op die golwe van die see!" Nou was hulle heeltemal oortuig van Wie Jesus werklik was en het gesê, "Waarlik, U is die Seun van God!" Petrus was sopnat en terwyl hy nog in aanbidding voor Jesus neergebuig het, het hy afgekyk na Jesus se nat voete en besef dat Jesus, die Seun van God, net soos Petrus 'n mens geword het en nou het Hy selfs sy voete natgemaak net om hom te kom red. *** DINK! 1. Waarheen het Jesus gegaan nadat Hy die dissipels en ander mense weggestuur het? 2. Wat het Hy daar gedoen? 3. Wat het Petrus gebid to hy gesink het? 4. Dink jy Petrus het geglo Jesus kon hom red? 5. Dink jy Jesus kan ook vir jou help wanneer jy Hom nodig het? 6. Watter twee dinge moet jy doen sodat Jesus jou kan help? REMEMBER: Wanneer ons tot Jesus bid om ons te help, moet ons glo dat Hy dit sal doen. 'N VERS OM TE LEER "Maar hy moet in geloof bid, sonder om te twyfel..." (Jakobus 1:6). 'N ALTERNATIEWE VERS OM TE LEER "Roep My aan in die dag van benoudheid en Ek sal jou uithelp en jy moet My eer" (Psalm 50:15). PRAKTIESE TOEPASSING In hierdie verhaal sien jy hoe Jesus se dissipels uitroep van vrees. Wat doen jy as jy bang is? Skree jy, kruip jy weg of soek jy vertroosting by jou ouers? Watter soort dinge maak jou bang? Wat van spinnekoppe, goggas, die donker, water of honde? Of het iemand al ooit probeer om jou bang te maak met spookstories of stories van monsters? [Na bespreking:] Wat het Petrus gedoen toe hy bang was? Wat wil Jesus hê moet jy doen as jy bang is? Net soos Petrus, wil Jesus hê dat jy in geloof Hom moet aanroep wanneer jy ook al bang is. Selfs wanneer jy voel dat jou geloof swak is, moet jy jou steeds tot Jesus wend en sy Naam aanroep. Daar is krag in die Naam van Jesus. Om sy Naam aan te roep kan jou vrees verdryf. God se Woord leer ons dat Jesus ver bo wat ons kan vra of dink kan doen. Stop nou en neem 'n oomblik om jou hart in geloof voor God uit te stort en vertel hom van al jou vrese. Vra Hom om jou die geloof te gee wat jy nodig het om vrees te oorkom. LAAT ONS BID "Hemelse Vader, dankie dat U altyd daar is om te red as ons tot U roep in ons dag van benoudheid. Help om ons om nie te twyfel nie, maar sterk te bly in ons geloof, maak nie saak hoe lank dit neem voordat U ons verhoor nie. In Jesus se Naam. Amen." KAN JY HIERIE STORIE IN DIE BYBEL VIND? Matthéüs 14:22-36; Mark 6:45-56; Johannes 6:16-21 *** BIBLE STORY ARCHIVE childrenschapel.org/bibstory2.html Copyright © 2022 by Sophia Prinsloo. You may NOT re-post this Bible story. However, you may freely link to it, provided visitors can see our web address when they click on the link. Free Bible Stories! To receive a new Bible story each week, enter your e-mail address under "Subscribe..." at tscpulpitseries.cis.to/mailman/listinfo/stories You will be sent a message requesting confirmation of your subscription request. IMPORTANT! YOU MUST REPLY to this confirmation request to activate your subscription to this list. Copyright © 2022 - www.childrenschapel.org Pictures Courtesy of Free Bible Images TOP OF THE PAGE Webmaster Last updated May 9, 2022 Next page Welcome!/ What's Here/ Bible Stories/ E-Mail Us/ Around the Piano/ 4 Things Events/ Children's Chapel/ Adult Chapel/ Missing Link/ Links/ Resources